18 January 2013

Publication: Sake24
Author: Antoinette Slabbert

Sephaku Sement ken oor sowat twee maande tenders toe om sy sement mark toe te vervoer. Die omset van dié tenders sal sowat R1 miljard per jaar wees.

Dít is van die voorbereidings wat volstoom aan die gang is vir die toetrede van dié nuwe sementprodusent tot die Suid-Afrikaanse mark in November. Sephaku is die eerste nuwe sementprodusent sedert 1934 wat sy eie produksievermoë van nuuts af skep en die plaaslike mark betree, sê Pieter Fourie, uitvoerende hoof.

Die groep word gesteun deur die Dangote-groep van Nigerië wat die beherende belang in Sephaku besit. Dangote is besig om sy sementbelange in veral Oos-Afrika aggressief uit te brei.

Volgens Fourie het meer as 50 logistiekmaatskappye voor die sluitingsdatum in Desember tenders ingedien vir dié vervoerwerk. Die tenders word tans oorweeg. Dit sal na verwagting verdeel word onder tussen vyf en tien diensverskaffers en sal drie tot vyf jaar geld.

Sowat driekwart van die siviele werk by Sephaku se sementaanleg buite Lichtenburg in Noordwes is reeds voltooi. Dit sluit al die groot betonstrukture en kritieke werk in, sê Fourie.

Die groot toerusting word tans geïnstalleer. Die droogoond is in November afgelewer en die installering daarvan begin in Februarie. In die volgende maand of wat sal die groot komponente van die meule uit Europa daar aankom.

Sephaku sal in Mei begin om die aanleg in bedryf te stel. Dit sal na verwagting tot November duur wanneer produksie begin. Die eerste drie maande van produksie sal ook gebruik word om die aanleg te optimaliseer en te toets “om te waarborg dat die aanleg doen wat hy moet doen”, sê Fourie.

Sowat die helfte van die klinker wat by dié aanleg geproduseer word, sal ook daar gemaal word. Die res sal na Sephaku se meule by Delmas vervoer word om dit te maal vir die mark in Mpumalanga en omgewing.

Fourie sê Sephaku teiken die binnelandse mark – Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat.

Fourie verwag vanjaar ’n styging van 3% tot 4% in die plaaslike vraag na sement.

Volgens syfers van die instituut vir sement en beton (C&CI) het die gemiddelde volume sementverkope per dag tussen Julie en September verlede jaar met 0,7% gedaal teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2011. Dít is die eerste daling ná volgehoue stygings sedert die eerste kwartaal van 2011.

Dít is die nuutste syfers nadat die Mededingingskommissie vroeër beslis het dat slegs nasionale statistieke oor sementverkope bekend gemaak mag word. Dit word beperk tot driemaandelikse syfers en word met 90 dae vertraag.

Fourie sê dié daling is nie noodwendig betekenisvol nie. Sementverkoopsyfers moet volgens hom oor ’n langer tydperk beskou word om ’n aanduiding te kry van tendense.

’n Onlangse foto van die Sephaku-sementaanleg wat buite Lichtenburg in Noordwes in aanbou is.
Foto: Duncan Leith, Sephaku